Afrikaanse Bybel : 1933 - 1953 Weergawe

Stoor BoekmerkGaan na BoekmerkSoekGeen X Verw


VorigeBoek: Hoofstuk: Volgende

1. VIR die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my.  

2. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.  

3. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.  

4. Want daar is nog geen woord op my tong nie - of U, HERE, U ken dit geheel en al.  

5. U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.  

6. Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.  

7. Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?  

8. Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!  

9. Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon,  

10. ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.  

11. En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting,  

12. dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.  

13. Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.  

14. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.  

15. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.  

16. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.  

17. Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!  

18. Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U.  

19. O God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg!  

20. Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef - u teëstanders!  

21. HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en 'n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?  

22. Ek haat hulle met 'n volkome haat; vyande is hulle vir my!  

23. Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes;  

24. en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!  


VorigeVolgende