Afrikaanse Bybel : 1933 - 1953 Weergawe

Stoor BoekmerkGaan na BoekmerkSoekGeen X Verw


VorigeBoek: Hoofstuk: Volgende

1. 'n LIED. 'n Psalm van die kinders van Korag. Vir die musiekleier; op die wysie van: “Máhalat leannot.“ 'n Onderwysing van Heman, die Esrahiet.  

2. HERE, God van my heil, bedags roep ek, in die nag is dit voor U.  

3. Laat my gebed voor u aangesig kom, neig u oor tot my smeking.  

4. Want my siel is sat van teëspoede, en my lewe raak aan die doderyk.  

5. Ek word gereken by die wat in die kuil neerdaal; ek het geword soos 'n man sonder krag,  

6. vrygelaat onder die dooies, soos die wat verslaan is, wat in die graf lê, aan wie U nie meer dink nie, en wat afgesny is van u hand.  

7. U het my gesit in die kuil diep daaronder, in duisternisse, in dieptes.  

8. U grimmigheid rus op my, en U druk my neer met al u golwe. Sela.  

9. U het my bekendes ver van my verwyder, my iets afskuweliks gemaak vir hulle; ek is ingesluit en kan nie uitkom nie.  

10. My oog vergaan van ellende. HERE, ek roep U aan die hele dag deur, ek brei my hande na U uit.  

11. Kan U aan die dooies 'n wonder doen? Of kan skimme opstaan, kan hulle U loof? Sela.  

12. Kan u goedertierenheid vertel word in die graf, u trou in die plek van vertering?  

13. Kan u wondermag in die duisternis bekend word en u geregtigheid in die land van vergetelheid?  

14. Maar ék, HERE, roep U aan om hulp, en in die môre kom my gebed U tegemoet.  

15. HERE, waarom verstoot U my siel, verberg U u aangesig vir my?  

16. Van jongs af is ek ellendig en klaar om te sterwe; ek dra u verskrikkinge, ek is radeloos.  

17. U toorngloed het oor my gegaan; u verskrikkinge vernietig my;  

18. die hele dag omring hulle my soos water, saam omsingel hulle my.  

19. U het vriend en metgesel ver van my verwyder; my bekendes is duisternis.


VorigeVolgende